ADVERTISEMENT:

 

Generiese foto.

T20-spanne hervat liga ná kort breek

 

Die Louis Trichardt Krieketklub het die afgelope naweek hulle plaaslike T20-liga hervat, met drie wedstryde wat by die Louis Trichardt Ovaal beslis is.

Saterdag het Limpopo Melkery teen die Warriors te staan gekom, met Limpopo wat eerste ingegaan het om te kolf. Aanvangskolwer Leon Olwage se oog was in gewees en hy het 51 lopies vanaf slegs 30 balle aangeteken in ‘n kolfbeurt wat vyf sesse gesien het. Soortgelyk het Juan Phillips ook 51 lopies (nie uit nie) aangeteken, maar vanaf 36 balle met dubbelsyferbydraes ook deur Gerhardus Fourie (26) en Shahil Patel (18). Limpopo het hulle kolfbeurt afgesluit met ‘n telling van 173/5 in hulle 20 beurte. Vir die Warriors het bouler Ashraf Khota 2/43/4 geneem, met Johan Jacobs, Jacques Burger en Frans Lottering wat elk een paaltjie gevat het.

Die Warriors se kolwers het gesukkel voor die penne en is almal uitgeboul vir 91 lopies in 16.2 beurte. Die enigste kolwers wat dubbelsyfers kon aanteken, was Hasan Diwan (15), Dilawar (12), Jacques Burger (10) en Nico van der Westhuizen (17). Vir Limpopo het Rikus Smit 3/11/3.2, Leon Olwage 2/7/2, Sahil Patel 2/22/3, en JP van Niekerk, AJ Fourie en Joubert Fourie elke een paaltjie geneem.

Die Vikings het Sondag (14 April) twee wedstryde gespeel. Die oggend het hulle eerste teen RCI te staan gekom. Hulle kolfbeurt het egter bietjie in duie gestort, met nie een van die aanvangskolwers wat enigsins hond haaraf kon maak nie. Met vyf paaltjies plat kon nie een kolwer dubbelsyfers aanteken nie. Slegs Nardus Barnard, in op nommer ses, en Waldo van Deventer, in op nommer sewe, wat onderskeidelik 19 en 16 lopies aangeteken het, kon dit in die Vikings se kolfbeurt regkry. Die hele span is uitgeboul vir slegs 81 lopies (81/10) in 18.4 beurte.

Vir RCI was Rafik Musa in goeie vorm met die bal en hy het vier paaltjies vir die verlies van slegs 11 lopies in 3.4 boulbeurte (4/11/3.4) laat kantel. Spanmaat Saad Zubair het 2/15/3 geneem, terwyl Ikram Patel en Shivam Patel elk een paaltjie ingeoes het. Drie van die Vikings se kolwers is uitgehardloop.

RCI se kolwers het nie tyd gemors voor die paaltjies nie, met aanvangskolwer Ikram Patel wat ‘n mooi fondasie van 31 lopies van slegs 11 balle af gelewer het (drie viere en twee sesse). Aan die ander kant het ‘n paar paaltjies vinnig geval, waarna Hussain Patel en Rafik Musa (met dubbelsyfers van 14 lopies elk) gehelp het om RCI na ‘n oorwinning van 82/7 in 11.2 beurte te stuur – ‘n drie-paaltjie wen.

Vir die Vikings het Bielie van den Berg geskitter met die bal, met ‘n boulontleding van 5/31/4, alhoewel sy span aan die verloorkant was. Morné Olwage het een paaltjie gevat.

Sondagmiddag was die NTT Vikings weer op die veld, die keer teen die Strikers. Tydens hierdie wedstryd kon die Vikings darem weer bietjie hulle trots herstel met ‘n vyf-paaltjie oorwinning.

Die Strikers het eerste gaan kolf en 129 lopies aangeteken, voordat hulle in 19.2 beurte uitgeboul is. Dié telling was te danke aan dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Dirk van den Berg (28), Riaan Gerber (17), Jerome Koekemoer (22) en Stephan Jacobs (13). Vir die Vikings het drie boulers elk drie paaltjies laat kantel. Gysbert Guillaume het 3/11/4, Nardus Barnard 3/16/3.2 en Bielie van den Berg 3/31/4 geneem. Weer kon Morné Olwage slegs een paaltjie vat.

Die Vikings se vyf-paaltjie oorwinning was grootliks te danke aan Leon Furstenburg se 60 lopies (nie uit nie) vanaf 48 balle, wat agt viere en ‘n ses ingesluit het. Gysbert Guillaume het ook geskitter met die kolf en 32 vanaf slegs 15 balle (ses viere en een ses) gemoker, met Nardus Barnard (22) wat ook dubbelsyfers kon aanteken om die Vikings te neem na 131/5 in 16 beurte. Vir die Strikers het Christo Boshoff 2/32/4 en Riaan Gerber 2/41/4 geneem. Dirk van den Berg het een paaltjie gevat.

 

Sport - Date: 19 April 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: