ADVERTISEMENT:

 

Nedbank bied gratis transaksies via PayShap tot die einde van April 2023.

Nedbank se nuwe kitsbetalingsdiens gratis tot 30 April 2023

 

Nedbank het hul nuwe kitsbetalingsdiens, PayShap, geloods met ‘n aggressiewe tariefstruktuur ten einde soveel moontlik gebruikers te lok. Die diens sal gratis wees tot 30 April, waarna ‘n minimale fooi van R1 per transaksie gehef word.

“Die koste om PayShap te gebruik is uiters laag, want ons glo dit is ‘n innovasie met enorme potensiaal om meer Suid-Afrikaners te help om die digitale ekonomie te betree. Dit laat individue en besighede toe om goedkoop kitsbetalings met behulp van hul selfone te maak,” sê die uitvoerende bestuurder van Nedbank se Solution Innovation-afdeling, Dayalan Govender.

Govender sê dat PayShap die sekuriteit van digitale transaksies kombineer met die gerief van onmiddellike kontant. “Dit sluit aan by Nedbank se standpunt dat digitale tegnologie kan bydra tot Suid-Afrikaners se vermoë om maklik, veilig en koste-effektief sake te kan doen.

PayShap is die resultaat van ‘n langtermyn samewerkingsooreenkoms gelei deur BankServAfrica. BankServAfrica is die finansiële sektor se middelman, wat dit moontlik maak dat transaksies kan plaasvind sonder dat bankbesonderhede gedeel word of ‘n bank toepassing gebruik word. Kitsboodskap-dienste soos WhatsApp word gebruik om die geld oor te betaal na elke party se bankrekening of elektroniese beursie (e-wallet). Dit bring mee dat fisiese kontant nie meer nodig is om kleiner besighede te betaal of geld te stuur na vriende of familielede nie.

Ten spyte daarvan dat Suid-Afrika se banksektor van die bestes ter wêreld is, speel kontant steeds ‘n groot rol in die plaaslike ekonomie, met R166 miljard se note en munte wat maandeliks hande verwissel. Elke maand word gemiddeld R70 miljard se geld by OTMe en kassiere getrek. Die rede vir die gebruik van kontant as betaalmiddel is kompleks, maar wat wel seker is, is dat dit teen ‘n geweldige hoë koste kom vir veral armer gebruikers. ‘n Studie wat in 2016 gedoen is, het getoon dat kontant gebruikers rondom R23 miljard gekos het, oftewel 0,52% van die land se Bruto Binnelandse Produk.

Die grootskaalse gebruik van kontant bring egter ook mee dat die werklike finansiële status van gebruikers en veral klein besighede nie akkuraat reflekteer nie. Dit beteken ook dat hulle moeiliker toegang het tot byvoorbeeld lenings wat hulle kan help om hul besighede uit te brei. Studies wat gedoen is in plekke soos Nigerië het gewys dat kitsbetalings bydra tot klein besighede se insluiting by dienste wat deur die finansiële sektor gebied word.

“Nedbank is ‘n leier op die gebied van tegnologie wat dit makliker maak vir Suid-Afrikaners om betalings te maak en hul finansies te bestuur,” sê Govender. Hy verwys na ontwikkelings soos die “Tap-on-Phone”-diens wat hulle bied, wat ‘n selfoon omskep in ‘n kaartmasjien wat betalings kan ontvang. “PayShap is ‘n soortgelyke innovering, want dit maak betalings makliker en meer bekostigbaar,” sê hy.

Suid-Afrikaners het ‘n groeiende aptyt vir kitsbetalings en daar word reeds meer as R105 miljard per jaar so oorgedra, ten spyte van die feit dat sommige banke tot R50 per kitstransaksie vra. Deur PayShap te gebruik, kan geld onmiddellik gestuur word na ‘n selfoonnommer. Aanvanklik sal PayShap ‘n beperking hê van R3 000 wat gestuur kan word.

“Deur die gebruik van kontant uit te skakel, versnel ons die finansiële insluiting van gebruikers. Soos wat die ekonomie stelselmatig meer digitaal word, word diegene wat steeds net kontant gebruik, uitgesluit,” sê Govender. Hy sê dat PayShap ‘n belangrike mylpaal is in Nedbank se strewe na ‘n sterker en meer inklusiewe ekonomie. “En Nedbank steun die proses deur uitsonderlike lae tariewe te hef,” sê hy.

Vir meer inligting oor Nedbank se nuwe betalingsopsies, lees hierdie artikel:

https://personal.nedbank.co.za/learn/blog/payshap-new-payment-method-fast-as-cash.html.

 

Advertorials - Date: 03 April 2023

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: