ADVERTISEMENT:

 

Rasenge Kubayi (regs) van Louis Trichardt is aangewys as Speler van die Wedstryd in die afgelope naweek se halfeindstryd tussen Louis Trichardt en Noordelikes se eerstes. Louis Trichardt wen 57-15. Saam met Kubayi is Attie Buitendag (links), bestuurder van die Limpopo Blou Bulle Unie. Foto verskaf.

Dorp se rugbymanne deur na eindstryd met onoorwonne rekord

Sport - Date: 06 September 2024

 

Die tafel is gedek vir ’n opwindende einde van die provinsiale rugbyliga, met al drie Louis Trichardt se rugbyspanne wat deurdring na die eindstryd. Die dorp se eerste en tweede span se pad na die eindstryd was ’n onoorwonne segetog, nadat hulle die afgelope naweek ook met hulle eweknieë van onderskeidelik Noordelikes en Musina afgereken het.

Louis Trichardt het Saterdag, 31 Augustus, tuisveldvoordeel geniet tydens die halfeindstryd, met die dorp se eerstes wat hulle kragmeting teen Noordelikes van Polokwane oortuigend wen met 57 punte teenoor 15. Louis Trichardt se tweedes wen ook hul wedstryd teen die manne van die grensdorp Musina met ’n telling van 38-7, terwyl ook Louis Trichardt se derdes deurdring na die eindstryd deur 30-21 met Potties (Mokopane) se derdes af te reken. Die ander wedstryd in die halfeindstryd wat Saterdag op eie bodem beslis is, was tussen Potties en Letaba se eerstes, met Potties wat naelskraap 43-40 kon seëvier.

Louis Trichardt se eerstes en tweedes se onoorwonne rekord die afgelope seisoen het soos verlede jaar vir hulle ’n tuis eindstryd besorg, en volgens klubvoorsitter Brian de Plooy moet inwoners Saterdag, 7 September, die manne kom ondersteun. Alle oë sal op die dorp se derdes wees wanneer hulle om 15:00 teen Noordelikes 3 op die veld sal draf. Om 16:30 sal Louis Trichard en Potties se tweedes mekaar die stryd aansê, waarna die dag se spel afgesluit sal word met die wedstryd tussen Louis Trichardt 1 en Potties 1, wat om 18:00 afskop.

Vir die dorp se eerste span is daar meer op die spel as om net as provinsiale wenners gekroon te word. Soos verlede jaar het hulle hul oog op deelname aan die Gold Cup-rugbytoernooi. Dié toernooi, wat doodgeloop het gedurende die Covid 19-periode, het weer verlede jaar herleef, met Louis Trichardt se eerstes wat geskiedenis gemaak het deur daarvoor te kwalifiseer. Ongeluk het hulle in hulle eerste wedstryd teen Bloemfontein Polisie vasgeval en is uitgeskakel uit die reeks.

Wat die Gold Cup-toernooi betref, word die twee beste eerste spanne van al die kleiner streke en provinsies gekies om deel te neem aan die toernooi. Die Northam Rhinos het reeds outomaties gekwalifiseer vir die Gold Cup, omdat hulle deel is van die Carlton-liga. Weens die geweldige afstande wat gery moet word vir wedstryde, is Limpopo verdeel in ’n noord- en suid-streek. Die suid-streek se wenner is reeds die afgelope naweek bepaal, met Mogol (Ellisras) en Loskop wat teen mekaar te staan gekom het. Loskop het 34-22 geseëvier. Louis Trichardt val in die noord-streek en die wenner van komende Saterdag se eindstryd tussen Louis Trichardt 1 en Potties 1 sal dan teen Loskop te staan kom in Polokwane. Die wenner van dié kragmeting dring deur na die Gold Cup, waar wedstryde vanaf 21 September op ’n enkelronde uitklopbasis beslis word.

Wat die naweek se wedstryde betref, beloop toegang by die hek R40 per persoon en R10 per inloop-toeskouer. ’n Kontantkroeg en eetgoed sal te koop aangebied word.   

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: