ADVERTISEMENT:

 

Generiese foto.

Skouspel van krieket in aanloop tot finaal van T10-liga

Sport - Date: 20 June 2024

 

Nie minder nie as vyf wedstryde is die afgelope naweek beslis in die volgende ronde wedstryde van die Louis Trichardt Krieketklub se T10-liga op die Louis Trichardt Ovaal, met krieketliefhebbers wat kan uitsien na die halfeind-wedstryde en eindstryd in die liga wat eerskomende Sondag beslis sal word.

Die Strikers en Warriors het Saterdag, 15 Junie, te staan gekom teen mekaar in ‘n naelbytwedstryd, met die Strikers wat met slegs twee lopies kon wen. Laasgenoemde span het ingegaan om eerste te kolf en met slegs dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Juan-Michael Phillips (11) en Ockert De Lange (35 nie uit nie) het die span 95 lopies vir die verlies van 7 paaltjies (95/7) in hulle toegelate beurte aangeteken. Vir die Warriors het bouler Dilawar Patel uitgestaan met ‘n boulontleding van drie paaltjies vir die verlies van slegs vier lopies in sy twee beurte (3/4/2). Spanmaat Rikus Smit het 2/13/2  geneem, terwyl Frans Lottering een paaltjie platgetrek het.

Die Warriors se kolwers het die teiken goed gejaag, met dubbelsyferbydraes deur kolwers Dilawar Patel (18), Hussain Diwan (12), Frans Lottering (22 nie uit nie) en Alex Fourie (27), maar kon net 93/7 bymekaarskraap toe die laaste aflewering geboul is. Vir die Strikers het Jarome Koekemoer 3/9/2 ingeoes, terwyl Christo Boshoff, Riaan Gerber en Dirk van den Berg elk een paaltjie kon inpalm.

Saterdag se tweede wedstryd was tussen RCI en die Vikings, met die Vikings wat eerste gaan kolf het. Die span se kolwers het 110/5 aangeteken in hulle beurt, met dubbelsyferbydraes deur kolwers Leon Olwage (17) en Gerhardus Fourie (44). Vir RCI het Rafik Musa, Ikram Kamboli, Saad Zubair, Ikram Patel en Irfan Bhana elk een paaltjie geneem.

RCI se kolwers het vanaf die eerste bal die boulaanval aangevat, met dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Ikram Patel (25), Saad Zubair (28), Irfan Bhana (23) en Jabir Abhuji (10 nie uit nie). Danksy hulle is die span se wenlopies van 111/5 in 9.1 beurte aangeteken, wat aan die RCI-span ‘n vyf-paaltjie oorwinning besorg het. Vir die Vikings het boulers AJ Fourie 2/22/2 en Morné Olwage 2/25/2 geneem, terwyl TE Smit een paaltjie platgetrek het.

Sondag (16de) het die Strikers en Killers mekaar die stryd aangesê, met die Killers wat oortuigend gewen het met tien paaltjies. Dit nadat die Strikers eerste ingegaan het om te kolf en aanvangskolwer Jarome Koekemoer wat 12 lopies kon aanteken en Juan-Michael Phillips ‘n redelike vinnige 43 lopies bygevoeg het. Ná hulle vertrek het die lopietempo afgeneem, met slegs Louis Steyn wat ook dubbelsyfers van tien lopies kon aanteken. Die Strikers het geëindig op 78/4 in hulle 10 beurte. Vir die Killers het Julius Kemp 2/14/2 en Lukas Visser 2/15/2 ingeoes.

Die Killers se kolfbeurt was redelik eenrigting-verkeer, met ‘n  50-tal (nie uit nie) deur aanvangskolwer AC Geldenhuys en spanmaat Lukas Visser (18). Die res van die wentelling is opgemaak deur ekstras (11) deur die Strikers-boulers, met almal met redelik gestraf is sonder beloning van ‘n paaltjie.

Sekerlik die aanskoulikste wedstryd van Sondag was tussen die Vikings en die Warriors. Die Vikings het eerste gaan kolf, met aanvangskolwer Leon Olwage wat behoorlik die langsteel ingelê en 73 lopies vanaf slegs 38 balle gemoker het in ‘n kolfbeurt wat nege viere en vier sesse gesien het. Aan die ander kant van die kolfkampie het Gerhardus Fourie eweneens die boulers gestraf met ‘n blitsige 71 lopies (nie uit nie) vanaf slegs 24 balle in ‘n beurt waarin hy agt viere en vyf sesse geslaan het. Tussen die twee van hulle het hulle ‘n wentelling van 156/1 aangeteken, met slegs Olwage se paaltjie wat in die voorlaaste bal van die wedstryd geval het. Die Warriors-bouler wat sy paaltjie gevat het, was Jacques Burger, met ‘n boulontleding van 1/12/1.

Die Warriors se kolwers het dapper geveg en alhoewel hulle hul paaltjies kon beskerm, kon hulle slegs 77/2 in hulle beurt aanteken, wat grootliks te dankie was aan kolwers Jacques Burger se 47 (nie uit nie) lopies en Frans Lottering se 18 lopies. Dit het aan die Vikings ‘n gemaklike 79-lopie oorwinning besorg. Vir die Vikings kon boulers AJ Fourie en TE Smit elk een paaltjie neem.

Wat Sondag se wedstryd tussen die Killers en RCI betref, was dit weer die Killers wat koning gekraai het, nadat RCI eerste gaan kolf het en 86/6 aangeteken het in hulle 10 beurte. Dubbelsyferbydraes deur kolwers Nimesh Watekar (37 nie uit nie) en Irfan Bhana (10) was grootliks hiervoor verantwoordelik. Vir die Killers het boulers Lukas Visser 2/16/2 en Julius Kemp 2/19/2 geneem, met Ruan van Tonder en Craig Viljoen wat elk een paaltjie laat kantel het.

Die Killers het net hulle aanvangskolwers nodig gehad om die wenlopies van 88/0 in slegs agt beurte te moker, met dubbelsyferbydraes deur kolwer AC Geldenhuys (47 nie uit nie) en Lukas Visser (35 nie uit nie). Dit het aan die Vikings ‘n 10-paaltjie oorwinning besorg.

Eerskomende Sondag, 23 Junie, word beide die halfeindstryd en eindstryd van die T10-liga op die Louis Trichardt Ovaal bepaal. Om 09:45 kom die Killers en Strikers teen mekaar te staan, gevolg deur die Vikings en RCI wat om 11:45 op die veld sal stap. Die eindstryd tussen die wenners van dié twee wedstryde sal om 14:30 begin. In hierdie stadium is die Killers onoorwonne in die liga en die gunstelinge om te wen. Maar krieket is op die beste van tye ‘n onvoorspelbare sport, met die Vikings wat dalk vir ‘n opskudding kan sorg.

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: